Twee gedigte deur Shirmoney Rhode as huldeblyk aan Adam Small

Shirmoney en Adam
Shirmoney Rhode en Adam Small by die vierde Swart Afrikaanse Skrywersimposium (UWK, 2015)

Adam van al’ie nasies

Vi’ Adam Small (2016)

 

Soes ’n Adam aan die begin van al’ie nasies,

het jy oek spasie gemaak vi ’n rib aan jou sy,

’n Rosalie soos ’n Rut van ouds,

getrou tot aan die roggel.

Getrou aan die rib van jou rib.

 

Soes ’n Adam aan die begin van al’ie nasies

het jy spasie gemaak vi ’n taal.

’n Standaard.

’n Bolands.

’n Kaaps.

Afrikaans met al sy gesigte.

 

Daai oem da erens in Wellington

met sy vaal stof skoene en brei in sy vehemelte.

Daai antie in Hanover Park met die overall by die wasgoedlyn,

wie se valse tanne nog in ‘n glasie water voo ha kooi staan.

 

Jy’tie geskroom om hulle storie te vetel nie

Jyt oekie gedink hulle is te common vi Afrikaans’ie

 

Soes ‘n Adam van ouds het jy opgestaan na die

val vannie vrug, jyt opgestaan van jou rug

en met pen en papier geploeg en gespoeg.

Soema in die gevriete van daai’s wie gemean

het Kaapse Afrikaans is nie genoeg.

 

Innie liewens van die randfigure het jy die Here gesien,

en sy werke verstaan.

Tanne getel vannie straatvieer en factory worker,

die vrugtesmous en blommeverkoeper.

 

Soes ’n Adam van ouds, was jy die vrug vannie liewe

gegie, en toe jy kan sien, het jy geskrywe wat jy sien.

Met jou kitaar as kruis het jy van huis tot huis mure

afgebriek van disgrace.

 

En nou pellie, kan ek my weergawe vannie taal

praat sonne om skaam te skuil omdat sommiges mean

my storie makie sakie.

 

Jyt gese dit maak saak, en nou is daai al wat vi’my matter.

Dit staan geskrywe, maybe nou nie op lywe, ma in my hart

wa dit hoort.

 

Saloet. Saloet. Saloet.

 

Spore op die hart

Vi’ Adam Small (2016)

 

En nou Adam, kom die storms

om jou spore

van die aarde se mat

weg te vee.

Soes ma’me hulle altyd gesê het.

Maa’ my hart, hy is nog uitgetrap met jou woorde.

Jou spore.

Hulle sit hier voorlangs op die stoep.

En as die son die die dag weer leer om daar te kom mooi maak,

sal’ik vir almal ‘n gedeelte van my hart gee.

Besaai met jou woorde.

Koebaai Adam, koebaai.