‘n Gedig deur Natalé Buffels as huldeblyk aan Adam Small

Adam

My eerste ontmoeting met jou

was toe ek grootskool toe gaan.

Daar het ek vriende gemaak

met Doemanie

en ek het met jou

Oppie Parare gesit.

 

Ons tweede ontmoeting

was die jaar

Van ons skoolkonsert.

Jou werk is voorgedra.

Daar het ek weer vir Doemanie gekry.

 

Ek het verlief op jou geword.

 

My laaste jaar op skool ontmoet ek

vir Map en Blanchie en Cavernelis.

Ek hou van hulle

want jy het hulle geskape.

Ek moes lees in die klas.

Ek wou nie.

Ek wou luister.

na jou, jou skeppings.

Jy was my allerhoogste.

 

 

En toe leef ons mekaar weer raak, ek en jy, op UWK.

Ek voel nader  aan jou.

Jy word myne.

Jy voer my weg, in Afrikaans.

Ek lees van Kanna.

Ek hoor jy is ʼn Sestiger.

Ek is trots op jou.

Jy nooi my uit,

Kô laat ôs sing”.

Ek sing saam met jou.

Met jou. Saam.

 

Maar  vir eers moes ek jou los. Vir  Breytenbach. En  Krog.

Ek hou van hulle.

maar dis vir  jou wat ek mis.

 

En dan,  wanneer jy daar staan…

Jou wit hare vang my oog.

Dit lyk mooi.

Jy glimlag breed

daái Saterdagoggend, die laaste dag van SAS4.

 

Ek staar verstom.

Ek wil  praat, Afrikaans praat,

maar ek is stom.

Ek neem ʼn foto.

 

Stom.

 

Jy kon nie lank bly.

Jy moes gaan.

Aan die sy van jou vrou,

jy moes gaan.

Ek staar na die deur.

 

Ek is stom.

 

My hart is seer.

Ek gaan jou nooit weer sien.

Jy is nou daar

waar Engele rus en vrede verdien.

 

Slaap sag.

Hou wag van bo.

Nou is ek nie langer stom.

Ek doen wat jy gedoen het.  In Afrikaans. Praat. Skryf. Sing.

Jou woorde leef in my, dat ons taal

 

sal voortleef solank as wat daar mense is wat dit praat.